GhoenasKraal is buite Nylstroom / Modimolle geleë.  Neem die Vaalwaterpad uit Nylstroom;   draai na ± 18 km regs op die Driefontein-grondpad;  draai na 1½ km weer regs by die volgende Driefontein-afdraai;  draai na 5½ km links in by die GhoenasKraal-bordjie en volg die gang tot by die plaas  (Die Driefontein-afdraai is ± 46 km vanaf Vaalwater).  Alternatiewelik kan julle die  ou Naboomspruitpad uit Nylstroom volg  -  die afdraai na Driefontein is so 6 km buite die dorp  -   dan 12 km op die grondpad na GhoenasKraal.  Die grondpaaie het redelik verspoel en dis verkieslik dat jy ‘n bakkie gebruik om daar te kom.

Maak asseblief seker dat die hekke weer behoorlik toe en vasgemaak / gesluit is nadat julle deurbeweeg het.

Onthou om julle eie beddegoed, handdoeke, toiletware en flitse te bring, en iets warm vir saans.

Bêre julle bederfbare kosse in die kombuis  -  die eekhorings het die gewoonte om dit aan te vat!

Maak asseblief seker dat die spens gesluit is én die lapa-hekke toe is as daar niemand in die lapa is nie of as julle gaan slaap / op ‘n veldrit gaan   -   die beeste, sebras én ander goed kan lasting wees.

Maak asseblief seker dat die braaivleisvure behoorlik geblus is voordat julle die lapa verlaat of gaan slaap.  Daar is ‘n gieter  -  gooi die vuur en brandende stompe asseblief goed nat met water!

Moet asseblief onder geen omstandighede naby die sebras (of die beesbul) kom of hom voer of sy kop wil streel nie  -  hy is agterbaks en byt en skop!  Hy het al! Hou ook saans die hekkie by die skool toe as julle nie die sebras en beeste as onwelkome kuiergaste wil hê nie.  Onthou, jy’s daar op eie risiko!!

Geniet julle kuier en tree op asof die plaas julle eie hardverdiende koningkryk is!!!